Deur Christus alleen
ALBUM
1. Inleiding
2. Geboorte en jeugjare
3. Onder invloed van die tydsgees
4. Sy "eerste bekering": nog geen
breuk met die tydsgees nie
5. Proponent in die Herstelde Lutherse
gemeente: begin van sy stryd teen die tydsgees
6. Sy proefskrif: 'n slag na die tydsgees
7. Sy aansoek om toelating tot die
Hervormde Kerk: deur die tydsgees afgewys oor sy Christus-prediking
8. Sy "tweede bekering": volledge
breuk met die tydsgees
9. Sy preek oor Romeine 7:14: die
mens verneder, Christus verheerlik
10.Breuk met die Reveil, breuk met die
tydsgees
11.Kohlbrugge se houding teenoor die Afskeiding
12.Tydperk in Utrecht: 1834-1846
13.Predikant in Elberfeld
14.Kohlbrugge se betekenis vir ons
1 INLEIDING
Daar was eenmaal 'n dominee wat getuig het: "Sonder kansel, sonder
prediking, kan ek nie lewe nie". Om te preek was sy lus, sy liefde, sy
lewe. Tog is hy aan alle kante die kansel verbied.
Wie was hierdie man en wat was sy probleem? Sy naam was Hermann
Friedrich Kohlbrugge en sy probleem was sy boodskap: die mens 'n nul en
Christus alles. Dit het hom 'n dwarslêer gemaak in 'n tyd waarin
die mens met sy deugde en goeie werke hoog aangeskryf is.
Kohlbrugge se hele lewe was een van verset teen die gees van sy
tyd en 'n opkom vir Christus alleen. Dit was sy groot lewenstryd. Dit is
dan ook nie vreemd dat hy soveel teenstand gekry het nie. Sy opponente
kon dit nie waardeer dat hy hulle afgodjie, die mens met sy wonderlike
vermoëns, aan skerwe slaan om in die plek daarvan Christus, alleen
te stel nie. Sy lewe lank - en tot op hede - is hy daaroor verguis, misverstaan
en teengestaan.
Kohlbrugge - hy was die man wat van die mens se poging om deur goeie
werke die Wet te vervul en die saligheid te verdien, verklaar het: "Werp
julle heiligingskrukke ver van julle af weg. Daarmee sal julle nooit die
berg Sion opkom nie (Ps.24)". Hy was die een wat gesê het:" Bind
u naam, u bekering, vroomheid en heiligheid, in kort alles, bymekaar in
'n bondeltjie en gooi dit daar waar dit hoort: aan die voete van die duiwel.
En so arm en naak soos Adam in die paradys, luister na die evangelie van
God, wat verkondig wat Eén (Christus) gedoen het vir almal, vir
u, hoe Hy die slang se kop vermorsel het". Vergeet van al u goeie werke,
wil hy daarmee sê. Steun alleen op dit wat Christus in u plek gedoen
het om die Wet te vervul en die duiwel te oorwin.
Maar ek loop die verhaal vooruit.
2 GEBOORTE EN JEUGJARE
Hermann Gerhard Kohlbrugge, vader van Hermann Friedrich, het in
1800 na Nederland geëmigreer. In die dorpie Edam het hy hom as seepfabrikant
gevestig. Daar het hy Petronella Teerhuys leer ken en met haar in die huwelik
getree. Na hulle huweliksvoltrekking het hulle na Amsterdam verhuis. Daar
is hulle eersteling, Hermann Friedrich, op 15 Augustus 1803 gebore.
Verskillende persone het 'n groot invloed op die jeugdige Kohlbrugge
gehad.
Veral sy grootmoeder aan moederskant, Anna van der Horst, het 'n
groot rol in sy geestelike vorming gespeel. Hy noem haar sy Loïs (2
Tim. 1:5). Deur haar onderrig het hy diep onder die indruk van sy eie totale
verlorenheid gekom. So sterk is sy aandag op daardie stadium al deur Christus
aangegryp, dat hy meer sin in Hom gehad het as in sy speelgoed en dit sê
baie vir 'n kind!
Van sy vader het hy geleer dat Moses die beste persoon was om hom
rond te lei in sy Koning se Paleis. Daarmee het sy vader bedoel dat die
vyf boeke van Moses die sleutel is tot die verstaan van die hele Bybel.
By sy vader het hy dus al die ontsaglike belangrike les geleer dat die
Ou Testament van Christus getuig.
Kohlbrugge se katkisasie-leermeester in die Herstelde Lutherse Gemeente
was ene J.F. Schultze. Aan die hand van die geskiedenis van groot manne
soos Dawid het hierdie onderwyser alreeds die saad by Kohlbrugge gesaai
dat die mens tot niks deug nie en dat ons heil slegs Christus se werk is.
3 ONDER DIE INVLOED VAN DIE TYDSGEES
In 1821 het hy klassieke tale, letterkunde en teologie begin studeer.
Veral in Hebreeus en Arabies het hy uitgeblink. Dié kennis sou hom
in sy latere studie van die Ou Testament goed te pas kom.
Ongelukkig het hy in daardie tyd onder die invloed van heidense
geskrifte gekom. Hy het alle behae begin skep in heidense wysheid en deug,
in Joodse godsdienstigheid en eiegeregtigheid. Sy aandag het verskuif van
Christus alleen na die mens met sy deugde.
Op 12 Maart 1825 tref 'n swaar slag Kohlbrugge: sy vader sterf.
Hoe moeilik dit egter ook al was, God sou uit hierdie gebeurtenis vir Kohlbrugge
die goeie laat voortkom: dit sou hom weer na God terugbring. As dit nie
daarvoor was nie, so getuig hy later, sou hy sekerlik 'n Baälspriester
en sielsverleider geword het.
Tog het die kentering nie dadelik gekom nie.
Hy begin nou privaatlesse gee om so te kan voorsien in die lewensbehoeftes
van sy moeder en die ander kinders. In die proses het hy onder die invloed
gekom van die valse mistiek, die mense wat buite die Woord om met God gemeenskap
wou beoefen.
4 SY "EERSTE BEKERING": NOG GEEN BREUK
MET DIE TYDSGEES NIE
Op 7 November 1825 lewer hy sy eerste preek. Sy teks was Romeine
5:1.
In dié tyd - toe hy besig was met die voorbereiding van sy
eerste preek - vind sy "eerste bekering" plaas.
Helaas was dit nog nie 'n ware bekering, dit wil sê 'n bekering
tot Christus alleen nie, want hy vertel self dat hy toe nog nie die Wet
uit eie hande gegee en heeltemal oorgegee het in die hande van Christus
nie. Eers later sou die tyd kom dat hy sou sê: "Hou u hande van die
orrel (die Wet) van my Here Christus af! U het nie geleer (orrel) speel
nie! Hou u hande van God se Wet (sy orrel) af, want u het nie die vermoë
om self slegs een jota of tittel daarvan te doen nie!". Laat die vervulling
van die Wet oor aan Christus. Laat Hy die saligheid vir u verdien.
5 PROPONENT IN DIE HERSTELDE LUTHERSE GEMEENTE:
BEGIN VAN DIE STRYD TEEN DIE TYDSGEES
Op 19 Oktober 1826 lê Kohlbrugge die proponentseksamen af
en op 1 Februarie 1827 word hy bevestig as hulpprediker in die Herstelde
Lutherse Gemeente in Amsterdam.
Helaas het die tydsgees ook nie by hierdie kerk verbygegaan nie.
Een van die dominees, D.R.Uckerman, was deurdronge van die moderne teologie.
Baie gou het daar konflik tussen hom en Kohlbrugge gekom. Uckermann
het naamlik op 13 Mei 1827 gepreek oor Johannes 16:5-15. Dit was 'n preek
wat deurdrenk was van die gees van die tyd.
Kohlbrugge het dadelik 'n beswaarskrif ingedien. Daarin wys hy onder
andere op die verswyging van Christus in Uckerman se preek: dit sê
niks daarvan dat 'n sondaar deur die geloof alleen regverdig word nie.
Van Jesus Christus as die enigste grond van die geloof en die mens se totale
onvermoë tot enige goed staan daar niks nie. Die grootste gedeelte
van die leerrede is gegrond op 'n sedelike verbetering deur eie wil en
krag.
Die aanklag was die vonk in die kruitvat. Die kerkraad het geëis
dat Kohlbrugge sy besware onvoorwaardelik moes herroep. Toe hy weier, is
hy op 22 Julie 1827 as proponent afgesit.
Dit is duidelik dat Kohlbrugge juis oor sy Christus-belydenis afgesit
is. Aan Cato Engelbert, die vrou met wie hy in sy eerste huwelik sou tree,
skryf hy: Word die mens en sy eiegeregtigheid platgeslaan en Christus gepreek,
staan wêreld en duiwel, konsistorie (kerkvergaderings) en prelate
(kerkleiers) op en hits mense aan om sulke getuies te kruisig.
6 SY PROEFSKRIF: 'N SLAG NA DIE TYDSGEES
In 1828 gaan hy na Utrecht om sy proefskrif te skryf. Dié
sou handel oor Psalm 45.
Juis in daardie tyd het hy lank siek geword. Hierdie beproewing
sou egter ryk vrugte dra, want in die geestelike krisis wat daarmee gepaard
gegaan het, is Kohlbrugge, na sy eie getuienis, deur die Here in die profesieë
ingelei. Daarmee bedoel hy: dwars teen die oorheersende opinie van sy eeu
het hy leer verstaan dat die Ou Testament van Christus getuig. Dit verkondig
volgens hom ook nie 'n Christus wat ons maar net leer om goeie werke te
doen nie. Inteendeel, vir Kohlbrugge getuig die Ou Testament van Christus
as die Een wat as Borg ons sondes sou dra.
By sy teruggekeer na Utrecht het hy hierdie opnuut ontdekte insig
in sy proefskrif verwerk: hy verklaar Psalm 45 so dat dit handel oor Christus
en sy bruid, die kerk, en nié, soos geleerdes in sy dae gemeen het,
dat dit slegs 'n Oosterse bruilofslied oor Salomo was nie.
Natuurlik was die professore glad nie ingenome met so 'n proefskrif
nie. Hulle het Kohlbrugge se opvatting verouderd en onwetenskaplik gevind.
So 'n proefskrif sou 'n skande vir die universiteit wees, het een gemeen.
Hy moes liewer 'n ander proefskrif skryf. Kohlbrugge se antwoord was: "Ek
skryf nie 'n ander een nie. Dan moet julle my liewer laat druip". Die proefskrif
was egter so goed dat hy uiteindelik met onderskeiding geslaag het. Op
4 Junie 1829 het hy sy doktorsgraad ontvang.
Maar Kohlbrugge het ook meer as net 'n doktorstitel ontvang vir
sy besondere uitleg van Psalm 45: 'n vrou! Catharina Louisa Engelbert,
sedert 1825 aan Kohlbrugge verloof, was wees. As gevolg van omstandighede
het sy onder toesig van haar ouma gekom. Op die dag van sy promosie het
Cato se grootmoeder hulle die ja-woord gegee. Dit het so verloop: toe sy
van Cato verneem dat Kohlbrugge Psalm 45 verdedig as Psalm oor Christus
en sy bruid, die kerk, het sy gesê: as Kohlbrugge as doktor terugkeer,
kan jy hom gelukwens en sê dat julle maar mag trou, want as hy Christus
en sy bruid so verdedig en hom daarvoor nie skaam nie, skaam ek my ook
nie vir hom nie.
Op 30 Julie 1829 het Kohlbrugge met Cato in die huwelik getree.
7 SY AANSOEK OM TOELATING TOT DIE HERVORMDE
KERK: DEUR DIE TYDSGEES AFGEWYS OOR SY CHRISTUS-PREDIKING
Algaande het Kohlbrugge oortuig geraak van die gereformeerde leer,
onder ander die oor die uitverkiesing. Daarom het hy in Januarie 1830 aansoek
gedoen om lidmaatskap van die Hervormde Kerk te Utrecht.
Wat daarop gevolg het, was 'n lydensgeskiedenis. Hy is van een kerklike
outoriteit na die ander gestuur, maar lidmaatskap is hom nie toegestaan
nie. Hierdie hele drama het amper drie jaar geduur.
In gesprek met 'n dominee Van Slogteren, een van die predikante,
het die aap uit die mou gekom: Van Slogteren was nie tevrede met Kohlbrugge
se beskouing oor Christus en sy werk nie. Daarom het hy vir Kohlbrugge
gesê: "Ons het verdedigers soos jy nie nodig nie". Aan die einde
van die gesprek het Van Slogteren reguit vir hom gesê: "Ons moet
rus hê in die kerk!!" Kohlbrugge met sy Christus-prediking en sy
verkondiging dat die mens niks kan nie, sou net onrus stook in 'n kerk
wat vas oortuig was van die besondere vermoë van die mens.
In 'n brief aan sy moeder in hierdie tyd skryf hy: As die Gees die
mens in sy hart aangryp en dit vermorsel met die geweldige hamer van die
Wet, dan kom die belydenis dat die mens niks is en niks het en niks wil
en niks kan nie. Dan kom waaragtige besef van sy geestelike armoede. In
'n ander brief bely hy: Wie waarlik na die Here toe kom as 'n arm sondaar,
'n bedelaar, bewus van sy totale armoede en kragteloosheid en dat hy die
oordeel van God verdien, so iemand word versadig met genade op genade uit
die volheid van Christus, die Geneesheer en Heiland van sondaars en nie
regverdiges nie.
Op 12 Februarie 1833 tref nog 'n slag Kohlbrugge: die dood van sy
vrou.
8 SY "TWEEDE BEKERING": VOLLEDIGE BREUK
MET DIE TYDSGEES
In 1833 het Kohlbrugge, ter wille van sy gesondheid, na Elberfeld
in Duitsland vertrek.
Duitsland was die land van Luther, een van die brandpunte van die
Reformasie van die sestiende eeu. Van daardie roemryke verlede was egter
nog net 'n skadu oor. Ook hier het die teologie verval in moralisme en
verstandsgodsdiens.
Elberfeld en die omliggende Wuppertal het egter 'n gunstige kontras
met die res van die land gevorm. Deur God se genade is die ou beproefde,
gesonde en suiwer leer nog verkondig. Tog het mensverheerliking in die
vorm van gevoelsgodsdiens ook daar begin kop uitsteek
'n Preek in die tyd oor Psalm 45 begin hy so: God maak sy heiliges
heeltemal tot niet, sodat Hy alleen in hulle groot sal wees. Hy maak hulle
geheel en al leë vate, om ons alleen uit sy volheid heeltemal te vul.
'n Aanhaling uit 'n brief van Kohlbrugge in dieselfde tyd laat hom
ook sien as pastor. Op 'n sekere dag het 'n man uit Nassaue, nog met stof
en sweet bedek vanweë die lang en uitputtende reis, by hom in Elberfeld
aangekom. Hy wou by Kohlbrugge weet wat hy moes doen om salig te word.
Daarop het Kohlbrugge hom geantwoord dat hy maar weer huis toe moes gaan,
uitrus en dit aan die lewende God moes vra. Dié sou hom dan leer
dat dit nie afhang van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar
van God wat barmhartig is (Rm.9:16). Daarmee het Kohlbrugge die man heeltemal
weggewys van homself en hom heengewys na God se ontferming alleen.
Daar in Elberfeld het 'n drastiese innerlike verandering by Kohlbrugge
plaasgevind, sy "tweede bekering".
Weer, soos by sy "eerste bekering", het dit gebeur tydens die voorbereiding
van 'n preek en weer was dit 'n vers uit die Romeine-brief (7:14). Net
soos in die geval van Luther en Calvyn sou Romeine in sy teologiese vorming
'n beslissende rol speel.
Na sy "eerste bekering" , sê Kohlbrugge, het hy lank probeer
om die Wet self te vervul, in plaas daarvan om sy verlossing in God se
hand alleen te laat. Die enigste vrug daarvan was egter dat hy al dieper
weggesink het in 'n gevoel van totale verlorenheid. Hy was raadop. Toe
het God ingegryp. Sy aandag is op die Lam alleen gevestig en die vrug daarvan
was dat hy afstand gedoen het van die Wet en van alle heiligheid. Daarmee
bedoel Kohlbrugge sekerlik nie dat hy toe opgehou het om te leef volgens
die Wet nie. Wel wil hy daarmee sê dat hy al sy heil nou alleen in
die Lam gesoek het. Alle ander dinge (wetswerke) het hy, net soos homself,
geag as stof en nul. Goeie werke het hy dus nou as van nul en gener waarde
beskou in die verkryging van die saligheid.
9 SY PREEK OOR ROMEINE 7:14: DIE MENS VERNEDER,
CHRISTUS VERHEERLIK
Daar in Elberfeld het Kohlbrugge sestien keer gepreek, maar die
preek oor Romeine 7:14 is die bekendste. Dit het hom beroemd en berug gemaak.
Dit was juis na aanleiding van hierdie preek dat hy uitgekryt is as 'n
antinomiaan (iemand wat sê dat 'n Christen nie meer die Wet hoef
te onderhou nie, omdat Christus dit in ons plek gedoen het).
Hy het die teks eers so gelees: "Ek is vleeslik verkoop onder die
sonde". In sy eksegese het hy egter tot 'n verrassende ontdekking gekom:
na die "vleeslik" moet 'n komma staan!
Waaroor gaan dit eintlik vir Kohlbrugge by die lees van die komma?
Wel, eers (sonder komma) het Kohlbrugge die teks so gelees: vir sover die
mens vleeslik is, is hy verkoop onder die sonde. Vir sover die mens geestelik
is, dit wil sê vir sover hy wedergebore en bekeerd is, is hy vry
van die sonde. Met die ontdekking van die komma kom hy egter tot die gevolgtrekking:
óók die wedergebore mens is in homself slegs vleeslik, verkoop
onder die sonde.
Wie die preek onbevooroordeeld lees, kom tot die ontdekking dat
Kohlbrugge beslis nie 'n streep deur die Wet as reël van dankbaarheid
trek nie. Wel wys hy dié beskouing af as sou die mens, met die Wet
in die hand, sy eie saligheid op 'n manier kon help bewerk. Uitdruklik
verklaar hy wat volgens hom die bedoeling van die Wet is: om die mens van
die sandgrond van sy eie werke te dryf en en na die Rots Christus te jaag.
Christus alleen vervul die Wet vir ons en bewerk so ons heil.
Kohlbrugge druk hom sterk uit in die preek. Hy sê byvoorbeeld
dat die Wet vir ons "'n lyk" geword het. Dit sê hy egter nie van
die Wet as reël van dankbaarheid nie, maar wel van die Wet as middel
in die mens se hand om sy heil ten dele of heeltemal self te bewerk.
In hierdie preek staan ook die beroemde uitspraak: Werp julle heiligingskrukke
ver van julle af weg. Daarmee sal julle nooit die berg Sion opkom nie (Ps.24).
10 BREUK MET DIE REVEIL, BREUK MET DIE
TYDSGEES
So ongeveer teen die einde van die agtiende eeu het daar onder ander
in Nederland 'n beweging bekend as die Reveil (Herlewing, Revival) ontstaan.
Kohlbrugge het hom ook by hulle geskaar. Juis in hierdie kring is sy preek
oor Romeine 7 egter glad nie goed onvang nie.
In 'n skerp verwoorde brief het Isaac da Costa, hulle leier, Kohlbrugge
van antinomianisme beskuldig. Sy mening was dat Kohlbrugge die derde deel
van die Heidelbergse Kategismus, die oor die dankbaarheid of heiliging,
nie tot sy reg laat kom nie. Volgens hom het Kohlbrugge wel 'n oog vir
die werk van Christus vir ons (die regverdiging), maar nie vir die werk
van Christus in ons (die heiliging) nie. Da Costa ontken dat ons heiliging
iets is wat Christus as Borg buite ons deur sy volmaakte heiligheid bewerk
het. Hy beperk ons heiliging dus tot die werk van Christus deur sy Gees
in ons, dit wil sê die dankbaarheidslewe.
Da Costa se standpunt is beslis nie Skriftuurlik nie. Inteendeel,
1 Korintiërs 1 vers 30 (vgl. ook HK: v/a 18)verklaar uitdruklik dat
Christus vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking
en verlossing. Ook ons heiligheid is dus 'n geskenk van God in Christus.
Daarmee word nie ontken dat die Heilige Gees nie ook heiligend op ons inwerk
en ons dankbaar maak nie.
Uit Da Costa se brief kry 'n mens die indruk dat hy Kohlbrugge nie
goed verstaan het nie. Kohlbrugge wys nie die Wet as reël van dankbaarheid
af nie, maar wel alle wettisisme.
Of miskien het Da Costa Kohlbrugge se preek juis wel goed verstaan.
Miskien het hy aangevoel dat bewegings soos syne - die Reveil - daarin
aangespreek word. 'n Groot kenner van die Reveil, soek in die Metodistiese
trekke van die Reveil die oorsaak vir die breuk tussen hulle en Kohlbrugge.
Da Costa en sy volgelinge het, anders as Kohlbrugge, 'n te hoë dunk
van die mens gehad. Kohlbrugge het dus op seer tone getrap.
In 'n lywige brief verwerp Kohlbrugge Da Costa se beskuldiging dat
hy 'n antinomiaan is as 'n gruwelike en helse dwaling. Dat hy die derde
deel van die Heidelbergse Kategismus verwaarloos, ontken hy ten sterkste.
Op 31 Oktober 1834 tree Kohlbrugge in die huwelik met Ursulina Philippina,
barones van Verschuer.
11 KOHLBRUGGE SE HOUDING TEENOOR DIE
AFSKEIDING
Aan die begin van 1834 het Kohlbrugge na Nederland teruggekeer.
Dit was ook die jaar van die Afskeiding. Aangesien die ontstaanswortels
van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika daar lê, is Kohlbrugge
se standpunt in die verband ook vir ons belangrik.
Die Afskeiding in Nederland het begin met die verset van dominee
Hendrik de Cock teen afdwalings in die Hervormde Kerk en sy verdediging
van die Gereformeerde leer. Daaroor is hy in 1833 deur die provinsiale
"kerkbestuur" sonder dat hy ooit aangehoor is geskors en afgesit.
Kohlbrugge het nie met die Afskeiding meegegaan nie. Aan dominee
Hendrik de Cock, die "vader van die Afskeiding" en ook aan dominee Antonie
Brummelkamp, 'n ander voorman van die Afskeiding, het hy briewe geskryf
waarin hy die Afskeiding afwys. So sterk het hy daaroor gevoel, dat hy
selfs aan Brummelkamp skryf dat die Afskeiding deur God vervloek is.
Blykbaar het De Cock Kohlbrugge om advies gevra oor die Afskeiding.
Kohlbrugge se mening was dus wel vir hom belangrik. In sy brief aan De
Cock keur Kohlbrugge wel De Cock se skorsing ten sterkste af. Sy advies
aan laasgenoemde is egter: "Passief moet ons in alles wees". Daarmee bedoel
hy beslis nie niksdoen nie, maar preek, en met preek bedoel hy dat kerkhervorming
in die hande van Christus Triomfator alleen gelaat moet word. Die apostels,
skryf hy, het nie geweld gebruik nie, maar het hulle predikamp getrou bly
beoefen. Die geheim van die triomf van die apostels se prediking lê
daarin dat hulle oorwin het deur die bloed van die Lam. Wie hier 'n ander
weg wil inslaan, is erger as Ussa wat met eie hand die ark van God orent
wou hou (2 Sam.6).
Kohlbrugge se advies kom hierop neer: die Lam sal die kerk herstel
en Hy alleen. Al wat De Cock dus moet bly doen, is om die Lam te predik.
Afskeiding daarenteen beteken vir Kohlbrugge om soos Ussa op menslike reddingsaksies
te steun.
'n Mens kan Kohlbrugge wel nie heeltemal gelyk gee as hy sê
dat die predikante net moet preek en nie mag afskei nie. Die probleem was
immers dat verskeie predikante in die Hervormde Kerk nie meer Christus
gepreek het nie of 'n ander Christus as die Bybel verkondig het. Wat moes
dus van die lidmate word van gemeentes waar juis die enigste belangrike
middel volgens Kohlbrugge, die prediking van Christus, ontbreek?
Tog gee Kohlbrugge veel stof tot nadenke. Die gevaar van 'n afskeiding
is inderdaad dat die mens kan dink dat hy die kerk met sy aktiwiteit moet
en kan red. Dit is in stryd met die belydenis dat die Seun van God die
kerk bewaar (HK: v/a 54).
12 TYDPERK IN UTRECHT: 1834-1846
Vanaf 1834 tot 1846 het Kohlbrugge en sy gesin in Utrecht gebly.
Hoewel kanselloos, was hy tog nie invloedloos nie. Veral deur boeke
en briewe het hy sy invloed laat geld.
Die belangrikste boeke was een oor Romeine 7 en 'n ander oor Matteus
1. Ook oor laasgenoemde boek sou Kohlbrugge baie ernstige kritiek moes
verduur. Daar is - verkeerdelik - gevoel dat die sondeloosheid van Christus
daarin aangetas word.
Verder het hy 'n verbasende hoeveelheid briewe geskryf. Al was hy
nie predikant nie, was hy tog pastoraal. Steeds het hy op die Lam van God
alleen gewys. Dit is die kenmerkende nie alleen van sy boeke en preke nie,
maar ook van sy korrespondensie. Hy word nie moeg daarvoor om enersyds
die totale bankrotskapvan die mens aan te toon en andersyds die algenoegsaamheid
van Christus nie.
Hoe kan 'n mens aan wie geheel en al niks goeds is nie tog goed
wees? So vra Kohlbrugge in 'n brief. Daarop antwoord hy: Net soos God hemel
en aarde deur sy woord uit niks geskape het, net so is ons heilig, omdat
God dit gesê het en ons begenadig het in die Geliefde. Dit kom alles
uitsluitlik van God en van sy Lam.
In sy briewe is 'n massa Skrifverklarings. Die bekende Groen van
Prinsterer het Kohlbrugge op 'n stadium versoek om dit te versamel en in
boekvorm uit te gee. So het die boek Opleiding tot recht verstand der Schrift
ontstaan.
13 PREDIKANT IN ELBERFELD
Ter wille van sy gesondheid het Kohlbrugge en sy gesin op 4 September
1845 na Godesberg in Duitsland vertrek.
Terwyl hy daar was, het hy 'n belangrike boek oor die betekenis
van die Ou Testament geskryf. Daarin toon hy uit die Nuwe Testament aan
dat die Ou Testament van Christus getuig en oor Hom handel. By vele mense
en geleerdes ook in ons tyd is dit 'n vergete waarheid.
Terwyl Kohlbrugge in Godesberg was, het enkele broeders uit Elberfeld
na hom toe gekom met die versoek om hom te ontferm oor die "verstrooide
skape". Daarmee is bedoel lede van die Reformierte Gemeinde aldaar wat
nie met die inmenging van die regering in die kerklike lewe verlief geneem
het nie en hulle daarom aan die kerklike lewe onttrek het.
Kohlbrugge het lank geaarsel, maar tog uiteindelik ingestem. Sy
bedoeling was egter nie om 'n eie afgeskeide gemeente te stig nie. Inteendeel,
hy het gehoop om hierdie mense weer vir die kerk te kon terugwen.
Op 4 Junie 1846 het hy in Elberfeld aangekom en het hy begin om
godsdiensoefeninge vir die "verstrooide skape" in sy eie huis te hou.
Dat Kohlbrugge nie met 'n afskeiding wou begin nie, kan ook in sy
verdere optrede gesien word: op 2 November 1846 het hy naamlik aansoek
gedoen om opgeneem te word in die Reformierte Gemeinde. 'n Kommissie van
die kerkraad was heeltemal geneë daartoe. Wel wou hulle ten opsigte
van 'n paar punte, onder andere sy beskouing oor die sondeloosheid van
Christus, 'n nadere verduideliking hê. Kohlbrugge se antwoord het
hulle bevredig. Hulle was eweneens toegeeflik insake Kohlbrugge se voorbehoud
ten opsigte van die regeringsoptrede.
Later het die kerkraad egter 'n heeltemal ander uitleg as Kohlbrugge
aan die gesprek met die kommissie gegee: hy moes sy aanhangers in die steek
laat en sy dienste op Sondae staak. Dit was hoegenaamd nie Kohlbrugge se
idee nie. Hy wou die eenheid van hierdie gelowiges met die Reformiert Gemeinde
juis deur hierdie "dienste" probeer herstel.
Kohlbrugge het nou geen ander uitweg meer gesien as om voort te
gaan met sy samekomste ten einde 'n eie gemeente daar te stel nie. Die
Niederländisch-reformierte Gemeinde, is gestig en op 9 Mei 1848 is
Kohlbrugge as predikant bevestig.
Die nuwe gemeente het die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse
Geloofsbelydenis en die Skotse belydenis as belydenisskrifte aanvaar. Daarby
het hulle die liturgie van die Palts gevolg en hulle gehou aan die kerkorde
van Jülich/Berg.
Ook na die totstandkoming van die gemeente het Kohlbrugge egter
met alle mag daarna gestreef om te vermy dat die nuwe gemeente beskou sou
word as 'n afgeskeie een. So het hy byvoorbeeld sy gemeente nog gebonde
geag aan die plaaslike Lutherse en Gereformeerde gemeentes. Verder het
hy studente wat by hom opgelei is as predikante, ook steeds weer terug
verwys na die landskerke.
Uit Kohlbrugge se bediening in die gemeente is duidelik dat hy baie
lief was vir die Heidelbergse Kategismus. Vir sy katkisasie het hy gebruikgemaak
van die Heidelbergse Kategismus met toeligting van homself daarby. Op sy
sterfbed het hy ook nog gesê: "Die Heidelberger! Die eenvoudige Heidelberger!
Hou daaraan vas , kinders!"
Kohlbrugge het ook in 1846 'n eie kategismus, Die leer van heil,
opgestel. Op advies van sy vrou is dit nie gedruk nie, omdat sy bang was
dat dit die Heidelbergse Kategismus kon verdring. Eers in 1903, met die
honderdjarige herdenking van Kohlbrugge se geboortedag, is dit uitgegee.
Dit is seker een van die belangrikste bronne in die ondersoek na sy teologie.
Daarom het ek dit in Afrikaans vertaal.
Bo alles was Kohlbrugge prediker. Die meeste van sy gedrukte preke
is ook vertaal, onder andere in Nederlands en Engels en selfs in Tsjeggies.
Later in sy lewe het Kohlbrugge verskeie male in Nederland gepreek.
Die laaste keer was in 1871 in Amsterdam op versoek van die bekende Abraham
Kuyper. Hy het selfs twee beroepe na Nederland gekry. So is hy tog in 'n
sekere sin in ere herstel in die kerk wat hom so verguis het.
Op 5 Maart 1875 is hy oorlede.
14 KOHLBRUGGE SE BETEKENIS VIR ONS
Daar was nooit 'n tyd en daar sal ook nooit 'n tyd wees dat die
boodskap van Kohlbrugge nie brandend aktueel sal wees nie. Die rede daarvoor
is doodeenvoudig: die mens 'n ronde nul en Christus alleen alles - dit
is die verkondiging van die evangelie.
Boonop staan ons voor dieselfde probleem as Kohlbrugge: wettisisme.
Sedert die sondeval wou die mens nog altyd heeltemal of gedeeltelik sy
heil in eie hand hou. Hy wil soos God wees. Dit geld nie alleen die sektes
nie, maar ook ons as Gereformeerdes. Die Fariseër leef in elke mensehart.
Paulus sê immers: die evangelie is nie na die mens nie (Gal.1:11).
Daarmee bedoel hy: die evangelie van louter genade is vir alle mense 'n
ergernis. Daarom is wettisisme 'n sonde waarteen elkeen van ons lewenslank
moet stry.
Die skokkende bevindings van Johan Cilliers in sy boek Die uitwissing
van God op die kansel dat meer as 90% van die radiopreke in 1994 en 1995
mank gegaan het aan wettisisme bevestig hoe aktueel Kohlbrugge vandag nog
is.
Die afval en doodsheid in die kerk is vir elke troue herder en elke
egte gelowige 'n bron van groot kommer. Die vraag is: weet ons nog wat
die oplossing is? Kohlbrugge wys ons die Skriftuurlike weg, die enigste
Weg: Christus alleen. Daarom: verkondig net die Woord en alles sal waaragtig
regkom. Dit sê God self: die geloof is uit die gepredikte Woord (Rom.10:14-17).
Preek die evangelie van die Lam wat geslag is vir mense wat in hulleself
totaal verlore is. Die Lam is God se almagtige herskeppingswoord vir totaal
magtelose mense. Hy alleen kan kerk en samelewing verander.