1. Inleiding
Die laaste paar jaar het ek die voorreg gehad om te werk aan ‘n
proefskrif getiteld Die Christologie van Hermann Friedrich Kohlbrugge (1803-1875).
Kohlbrugge was 'n Nederlands-Duitse teoloog. Hy was deurdronge van
die oortuiging dat ons verlossing net Christus se werk is. Juis daarin
lê die groot waarde van sy teologie.
Wat het Kohlbrugge egter met die rekenaar te make gehad? Kohlbrugge
het tog nooit oor die rekenaar geskryf nie? Trouens, die rekenaar het in
sy tyd nog nie eens bestaan nie! Of gaan dit miskien oor iets wat Kohlbrugge
geskryf het oor Levi, die tollenaar? Levi was mos 'n "rekenaar", 'n man
wat daagliks rekensommetjies gemaak het!
Ek moet dus my bedoeling met hierdie artikel duidelik maak: eerstens
wil ek hiermee die lesers laat sien hoe ek die rekenaar aangewend het in
my Kohlbrugge-navorsing en tweedens wil ek die groot rol van die rekenaartegnologie
in die verspreiding van die versamelde inligting onder u aandag bring.
2. Die nut van die rekenaar
2.1 Die rol van die rekenaar in die Kohlbrugge-navorsing
2.1.1 Statistieke
Dat die Wet ‘n vername plek in die Christologie (die leer aangaande
Christus se Persoon en werk) van Kohlbrugge inneem, is ‘n feit. Dit word
nie alleen bevestig deur uitsprake van Kohlbrugge self nie, maar ook ‘n
statistiese ondersoek bevestig dit.
In my navorsing het ek onder andere Die Lehre des Heils, Kohlbrugge
se kategismus, op rekenaar gesit. Met behulp van die soek-funksie (Find)
van ‘n woordverwerker ('n soort program op die rekenaar) kon ek presies
vasstel hoeveel maal en waar hy die woord Wet in sy kategismus gebruik.
Op grond daarvan kon ek tot die gevolgtrekking kom: die woord Wet kom dikwels
voor in elke afdeling van sy Christologie (die geboorte, die getuienis,
die dood, die opstanding, die hemelvaart en die inbesitneming van die koninkryk
deur Christus) en, bloot statisties gesproke, kan 'n mens sê dat
die Wet ‘n deurlopende lyn in Kohlbrugge se Christologie vorm.
2.1.2 Woordstudie
Om Skrif met Skrif te vergelyk, is ‘n beginsel in die verklaring
van die Heilige Skrif.
Hierdie beginsel moet ook toegepas word in die uitlê van iemand
se teologie. Dit is wetenskaplike eerlikheid om ‘n persoon self te laat
sê wat hy met ‘n bepaalde woord of uitdrukking bedoel. Ook hier is
inlegkunde (om iemand woorde in die mond te lê) ten strengste verbode.
Vanselfsprekend kan hierdie beginsel nie presies net soos in die
geval van die Bybel toegepas word nie. Die rede daarvoor is dat die Heilige
Gees onveranderlik is. Dit kan nooit van ‘n mens gesê word nie. Daarom
kan ‘n skrywer ‘n sekere woord jare later heeltemal anders uitlê
en gebruik. Tog kan dan in elk geval gesien word watter ontwikkelings sekere
begrippe by ‘n skrywer ondergaan het en hoe die outeur hierdie begrippe
in verskillende stadiums gebruik.
In die proefskrif is veelvuldig van hierdie beginsel gebruikgemaak.
Wanneer Kohlbrugge in sy kategismus byvoorbeeld daarvan praat dat Christus
in ons toestand gekom het, is weereens met die soek-funksie van ‘n woordverwerker
nagegaan hoe hy die woord toestand in ander werke van hom gebruik. So is
Kohlbrugge self aan die woord gebring.
Die voordeel van die rekenaar is dat met baie groot noukeurigheid
vasgestel kan word waar ‘n persoon oral ‘n woord of uitdrukking gebruik.
2.1.3 Versameling van materiaal
Deur middel van soekprogramme kan 'n mens die hele Internet deursoek
om inligting te verkry oor 'n bepaalde onderwerp. Ek kan byvoorbeeld net
die woord "Kohlbrugge" intik en so sal ek alle boeke en artikels wat op
Internet beskikbaar is, binne sekondes bekom.
Ook op 'n ander manier kom daar egter inligting na 'n mens toe.
Omdat daar stof oor Kohlbrugge op my tuisblad (vir diegene wat belangstel:
die adres is: https://members.tripod.com/~Bogaards/Index.htm) is, het 'n
mediese dokter in Duitsland, dokter Albrecht Blank, met my kontak gemaak.
Hy was geweldig beïndruk met my tuisblad, omdat voorgeslagte van hom
in die gemeente van Kohlbrugge in Elberfeld (Duitsland) was. Hy het ook
nog briewe van Kohlbrugge aan sy oor-oor-grootjie, Peter Schumacher, preke
wat laasgenoemde met die hand afgeskryf het en katkisasie-aantekeninge.
Dit beslaan letterlik honderde bladsye. Vanselfsprekend is dit materiaal
wat van die grootste belang vir die Kohlbrugge-navorsing is. Daarom is
hierdie inligting deurgegee aan die Kohlbrugge-argief aan die Rijksuniversiteit
van Utrecht (Nederland). Ek self het al via e-pos verskillende afdrukke
van foto's, briewe, ensovoorts gekry en later sal ek ook fotostate van
die ander materiaal bekom.
Dit is dus nie net argeologiese opgrawings wat verrassende resultate
oplewer nie. Wie gaan delf op Internet, kom tot die waardevolste ontdekkings!
2.2 Die nut van die rekenaar in die verspreiding van die versamelde
kennis
2.1.1 Die uitvinding van die boekdrukkuns was ‘n groot ontdekking.
Die betekenis daarvan vir die verbreiding van kennis was enorm. Dit kan
ook - en sekerlik in ‘n nog groter mate - van die rekenaar gesê word.
Ek kon byvoorbeeld my proefskrif op Internet sit en so op ‘n maklike
en goedkoop manier my navorsingsresultate hier en wêreldwyd met ander
deel.
My proefskrif staan op die tuisblad van Stichting Reformatica (http://www.meetingpoint.org),
'n organisasie van die Gereformeerde Bond in die Hervormde Kerk in Nederland.
Dit kan gratis daar afgelaai word.
Dit is egter nie net mense wat Internet het, wat my proefskrif teen
'n lae prys kan bekom nie. Enigiemand wat 'n rekenaar het en in die proefskrif
belangstel, kan dit by my op rekenaardisket (R3.00, plus posgeld en verpakking)
kry. Vergelyk dit met die prys van boeke vandag!
2.2.2 Voorts het ek in my studietyd duisende bladsye van Kohlbrugge
se werke afgetas (op rekenaar gesit met 'n aftaster of "scanner"). Dit
kan nou eweneens, danksy die rekenaartegnologie, versprei word en deur
ander Kohlbrugge-navorsers benut word. Ander ondersoekers hoef nie al die
werk weer oor te doen nie. Dit is ook die gedagte om al daardie werke in
samewerking met Stichting Reformatica saam met 'n soekprogram op 'n CD
te sit.
Indien ek van ‘n kaartsisteem gebruik sou gemaak het, sou ek dit
beswaarlik kon uitdeel. Boonop is so ‘n stelsel beperk tot net een veld
van ondersoek, byvoorbeeld die Christologie (die leer van die Persoon en
die werk van Christus) van Kohlbrugge. Daarenteen kan enigiemand die werke
van Kohlbrugge wat ek versamel het, bekom deur die CD te koop. Dié
sisteem van my sal hulle dan kan gebruik om letterlik enige onderwerp by
Kohlbrugge te bestudeer, byvoorbeeld sy beskouing oor die kerk, die werk
van die Heilige Gees, ensomeer.
2.2.3 Ek beplan verder om toekomstige navorsing van my oor Kohlbrugge
op my tuisblad te plaas.
3. Slot
Iemand het êrens gesê: “Die toekoms sal toon dat die
koms van die rekenaar ‘n groter impak op die mens se geskiedenis sal hê
as die ontdekking van vuur”.
Die rekenaar is ‘n moontlikheid wat God in sy skepping gelê
het. Ons moet dit ook in ons teologiese wetenskap tot sy eer en tot verdieping
van ons kennis van Hom gebruik.